law.news nuusbrief julie 2012

law.news nuusbrief julie 2012

FACEBOOK, LINKED-IN, TWITTER: SOSIALE MEDIA EN ONTSLAG

Die gebruik van sosiale media het toenemend ‘n effek in die werksomgewing. Werknemers en werkgewers moet hiervan kennis neem. Klagtes en uitgesproke kommentaar oor werkgewers kan vinnig en met nadelige gevolge versprei word.

Werknemers: Nota uit die voorste linies

Die gevaar is dat enige negatiewe kommentaar wat jy aanlyn neerpen, soos ‘n veldbrand kan versprei, of dit jou bedoeling was of nie. In die era van die internet, word jou private opmerkings in die openbare domein sigbaar, sodra jy dit aanlyn publiseer of op Twitter twiet. Indien hierdie opmerkings lasterlik of beledigend teenoor jou werkgewer, die besigheid, kopers of verskaffers is – kan jy ernstige skade vir jou werkgewer asook vir jou werkskollegas veroorsaak.

Onlangse uitsprake van die “CCMA” (KKMA – Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie) bevestig dat dit selfs tot jou ontslag kan lei.

So het die CCMA onlangs die ontslag van ‘n operasionele bestuurder en boekhouer van dieselfde werkgewer gehandhaaf. Beide het afbrekende en beledigende kommentaar oor hul werkgewer en ander bestuurspersoneel op Facebook geplaas – keuropmerkings soos “what an idiot”, “dumb brats” en “mickey mouse business”.

Die Kommissaris maak dit duidelik dat indien hulle hul opinies privaat wou hou, moes hulle hulself bloot daarvan weerhou het om dit op die internet te publiseer.

As jy ‘n bedrewe rekenaargebruiker is, sal jy beperkings op toegang tot jou kommentaar en inhoud kan plaas. Dit is beter as ongestoorde toegang, maar dit hou steeds risiko’s vir jou in. Die veiligste is om eerder jou klagtes oor jou werkgewer van die internet af te hou. As jy dit eers geplaas het, raak dit bykans onmoontlik om die verspreiding daarvan te keer of om jou opmerkings terug te roep.


Die “Linked-In” profiel bewys die teendeel

‘n Linked–In profiel het ook die aandag van die Hoë Hof geniet. ‘n Gewese werknemer het ontken dat hy die bepalings van sy handelsbeperkingklousule oortree het. Sy Linked–In profiel het egter aangedui dat hy toegang tot vertroulike en strategiese inligting van sy gewese werkgewer gehad het. Hy het toegang tot die werkgewer se kliënte, hul kontakbesonderhede en ander inligting gehad en hy het dit ook gebruik om met hulle kontak te maak.

Werkgewers:  

Voorsorg is beter as nasorg. Die volgende maatreëls moet in plek gesit word, voordat jy ‘n probleem ervaar:-

  • Hersien jou personeelbeleid en jou indiensnemingsvoorwaardes. Wat bepaal dit oor internetgebruik tydens kantoorure? Wat bepaal dit oor die inhoud van e-posse wat ontvang, gestoor of gestuur word?
  • Hoe hanteer jy RICA? (“Regulation of the Interception of Communications and Provision of Communication-Related Information Act”) Wat is julle beleid oor die monitering van elektroniese kommunikasie in die werksplek? Hou in gedagte dat ongemagtigde en ongereguleerde monitering inbraak kan maak op die Grondwetlike reg op privaatheid.

‘n Werknemer se wangedrag kan streng dissiplinêre optrede regverdig, maar dit gaan nie altyd ontslag regverdig nie. Verkry advies indien jy hieroor twyfel.

JOU UITSIG OOR DIE SEE – KAN DIE BURE DIT TOEBOU?

Ons het deur die jare al verskeie sake gehad wat hieroor handel. Die Hoë Hof moes onlangs weer spartel oor die kwessie van ‘n eiendom se uitsig oor die see. Wanneer sal die oprigting van ‘n nuwe gebou, die uitsig van aanliggende eiendomme so benadeel, dat die hof ‘n bevel teen die eienaar van so ‘n gebou sal uitreik? Sal die hof so ver gaan om die eienaar te gelas om die gebou af te breek?

Die vakansiehuis wat die bure se uitsig belemmer het

Die betrokke woning was aangedui as ‘n luukse vakansiewoning. In werklikheid was dit in gebruik as die eienaar se primêre woning. Die bure se panoramiese uitsig oor die see is met 75% deur die huis se dak belemmer. Die dak het die plaaslike bouregulasies se maksimum toegelate hoogte met ‘n volle 9,5 meter oorskry!

Die huis is as ‘n “onwettige struktuur” verklaar, wat die plaaslike owerheid in staat gestel het om vir die sloping van die struktuur aansoek te doen.

Wanneer sal ‘n bevel vir sloping of vernietiging toegestaan word?

Die Hof was nie bereid om te aanvaar dat dit outomaties verplig sou wees om die sloping van ‘n onwettige struktuur te gelas nie. Die hof bevind eerder dat dit ‘n geregtelike diskresiesou hê om sloping in gepaste gevalle te gelas. Die hof sal oor die algemeen lugtig wees om die sloping van ‘n nuutgeboude en voltooide struktuur te gelas. Ander opsies en minder drastiese ingrypings sal eers deur die hof oorweeg word. Die hof sal wil kyk na moontlike ombouings aan die geboue ten einde die eienaar eerder te verplig om aan die regulasies te voldoen; of dalk na ‘n toekenning van skadevergoeding aan die bure wat direk hierdeur geraak word.

Die howe sal hul diskresie uitoefen deur die volgende vrae te stel: Sal ‘n slopingsbevel in die spesifieke geval “reg en billik” wees? Is die skade wat deur die partye gely word proporsioneel? Wat is wettig en wat is die beleid in die betrokke munisipale gebied? Al hierdie omstandighede en faktore moet gevolglik in ag geneem word, voordat ‘n besluit geneem kan word of sloping ‘n gepaste hofbevel sal wees.

Die eienaar se verlies van R9.1 miljoen

Hier het die hof beveel dat die eienaar wel sy huis moes sloop. Die hof lê ‘n tydperk van ses maande neer om dit te doen.

Die hof gee toe dat die sloping ongekende finansiële verlies vir die eienaar sou meebring. Die waarde van die huis word op omtrent R8.1 miljoen gereken, terwyl die slopingskostes ‘n verdere bedrag van ongeveer R1 000 000 sou beloop.

Twee faktore weeg swaar by die finale bevinding van die hof: –

  1. Die eienaar se besluit om voort te gaan met die konstruksie, nadat daar reeds ‘n aansoek gebring is om die goedkeuring van die bouplanne tersyde te laat stel. Die hof het nie met hom saamgestem dat hy ‘n onskuldige slagoffer was van faktore buite sy beheer nie.
  2. Die benadeling van die eienaar indien sloping gelas word, sou nie buite verhouding wees met die benadeling van die aanliggende bure indien sloping nie goedgekeur word nie. Die hof bevestig die beginsel dat jou bure nie onbehoorlik kan inmeng met die geredelike gebruik en genieting van jou eiendom nie. Dit sluit klaarblyklik ook die reg in dat daar nie op onredelike wyse op jou uitsig inbreuk gemaak kan word nie.

Mediaberigte dui aan dat die eienaar appèl gaan aanteken teen die slopingsbevel.

Die Hoogste Hof van Appèl sal dan die laaste uitspraak hieroor moet gee. Die boodskap is reeds duidelik. Enige bouwerk of aanbouings wat in stryd met die bouregulasies uitgevoer word en enige optrede wat inbreuk maak op jou bure se regte, kan net op jou eie risiko aangepak word.

DIREKTEURE EN “MISDADIGHEID”: NOG ‘N RISIKO

‘n Tydige waarskuwing aan alle maatskappydirekteure. Die nuwe Maatskappywet, wat nou reeds meer as ‘n jaar in werking is, plaas bykomende verantwoordelikhede en risiko’s op ‘n direkteur.

In uitsonderlike gevalle kan ‘n direkteur selfs as ‘n misdadige (“delinquent”) direkteur verklaar word. In gevalle van ernstige oortredings kan ‘n persoon lewenslank onbevoeg verklaar word om ‘n direkteur te wees of verbied word om in ‘n senior bestuursposisie te dien.  Selfs in die geval van ‘n minder ernstige oortreding kan dit aanleiding gee tot ‘n diskwalifikasie van ten minste sewe jaar.

Dit is bykomend tot moontlike siviele aanspreeklikheid vir enige verliese wat gely word en ook die moontlikheid van strafregtelike vervolging.

Waar ‘n direkteur nalaat om op te tree, hoef dit ook nie opsetlik te wees nie. Nalatigheid kan ‘n direkteur duur te staan kom, veral waar ‘n hof bevind dat growwe nalatigheid ter sprake was.

Hierdie bevele word reeds teen direkteure gegee. ‘n Verklaring van onbevoegdheid en misdadigheid is onlangs deur die Hoë Hof gemaak. Die aansoek is hier deur ‘n mede-direkteur gebring; die feite dui aan dat hier grootskaalse oneerlikheid en bedrog ter sprake was.

Die hof bevind dat die betrokke direkteur se laakbare optrede “fell short of the standard expected of a director …… to such an extent that it amounts to wilful misconduct, breach of trust and a gross abuse of his position as a director”.

Die feite  –

  1. Die direkteur het toegelaat dat fondse wat vir die maatskappy bestem was (twee BTW terugbetalings ten bedrae van R61 Miljoen), aan ‘n ander besigheid uitbetaal is, tot nadeel van die maatskappy.
  2. Hy het nie agtergekom dat BTW bedrog van R39 miljoen deur die gebruik van fiktiewe belastingfakture van die maatskappy gepleeg is nie (hierdie nalate is ‘n duidelike vorm van “growwe nalatigheid”, aldus die Hof).
  3. Die direkteur het versuim om sy mede-direkteur en mede-aandeelhouer hiervan in kennis te stel.
  4. Hy het versuim om die R39 miljoen aan SARS terug te betaal, nadat die BTW bedrog ontdek is.

Die maatskappy eis ook nou R22 miljoen van die misdadige direkteur (blykbaar is verlof tot appèl teen die bevel geweier). ‘n Verdere eis van R136 miljoen (die bedrag wat SARS nou van die maatskappy eis) kan moontlik ook teen hom ingestel word.

Enige belanghebbende party kan by die hof aansoek doen vir ‘n verklaring van misdadigheid (in minder ernstige gevalle kan ook aansoek gedoen word om die direkteur op proef (“probation”) te plaas).

Belanghebbende partye sluit in mede-direkteure, aandeelhouers, werknemers en vakbonde. Enige vorm van ernstige wangedrag of die verbreking van die vertrouensverhouding, selfs waar dit onwetend gedoen word, kan sodanige aansoek tot gevolg hê. So wees versigtig.

WERKGEWERS,WERKNEMERS: NUWE INKOMSTESKALE 1 JULIE

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes bepaal dat sekere voordele en beskerming nie op werknemers van toepassing is, wat bokant ‘n sekere inkomsteperk verdien nie. Dit sluit in ‘n beperking op ure wat oortyd gewerk mag word, betaling vir oortyd, werk op Sondae en die regulering van etenstye.

Met ingang van 1 Julie skuif hierdie perk op na R183,008 per jaar (van R172,000). Daar is wel ‘n onderskeid tussen sekere klasse werknemers en sekere werksomstandighede waar hierdie voordele uitgesluit word. Die voordele geld ook nie vir senior bestuurslede, sommige verkoopspersoneel asook werknemers wat minder as 24 uur per maand werk nie – neem advies oor hoe dit jou en ander personeel raak.

SKADE AS GEVOLG VAN PROTESAKSIE – DIE ORGANISEERDERS AS TEIKEN 

Die Grondwetlike Hof het onlangs bevestig dat ‘n vakbond aanspreeklik gehou kan word vir die wandade van sy lede. Tydens ‘n staking en protesoptog het die situasie in chaos ontaard.  Skade van ongeveer R1,5 miljoen is langs die optogroete aan voertuie en winkels aangerig.

As jy dus skade onder soortgelyke omstandighede opdoen, moet jy kyk of jy nie jou skade van die organiseerders van die “byeenkoms” (soos gedefinieer) kan verhaal nie. Die kanse dat jy jou skade met sukses van die oproeriges self kan verhaal, is natuurlik skraler.

Nota –

  1. ‘n “Byeenkoms” word omskryf as enige openbare byeenkoms, vergadering, of prosessie van meer as 15 mense, wat vergader om hul ondersteuning of kritiek van ‘n organisasie of individu  te wys. (Die volle definisie is kompleks – neem advies indien die situasie op jou van toepassing is.)
  2. Ons beskik almal oor belangrike regte wat Grondwetlike beskerming geniet – soos die reg om in die openbaar te vergader, protes aan te teken, proteslinies op te stel en om beswaarskrifte te oorhandig. Hierdie regte moet egter op vreedsame wyse en sonder wapens uitgeoefen word.
  3. Dit is ook nie net vakbonde wat hier aanspreeklik gehou kan word nie. Elke organisasie ten gunste van wie so byeenkoms gehou of gereël word, of die sameroeper daarvan, sal gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik gehou word vir enige skade wat tydens die byeenkoms aangerig word. Jy kan dus ook ‘n eis hê teen die sameroeper of organiseerder van sodanige byeenkoms.
  4. Die organiseerders wat aanspreeklikheid ontken, kan ‘n paar verwere opper. Hulle sal wil aantoon dat die optrede of nalate wat direk tot die skade aanleiding gegee het, nie redelik voorsien kon word nie. Hulle sal ook wil aantoon dat hul alle redelike stappe geneem het om skade te voorkom. Enige persoon of organisasie wat van voorneme is om ‘n byeenkoms saam te roep, moet kennis neem van hierdie verpligtinge en risiko’s

JULIE SE WEBWERF : “ROAMING” KAN JOU DUUR TE STAAN KOM!

“Roamin’ in the gloamin’ wae my lassie by my side….” (Sir Harry Lauder)

Doen gerus behoorlike navorsing voordat jy op jou buitelandse reise jou selfoon se swerfopsie (“roaming”) aktiveer. Moneyweb verduidelik die opsies in die artikel: “Mobile operators’ rip-off scheme” op die Moneyweb webwerf te http://www.moneyweb.co.za/.  Hulle maak uiteindelik die volgende aanbeveling: “Purchase a prepaid service in the country you are visiting and avoid getting an exorbitant bill from your South African cellular provider”. As dit noodsaaklik is dat jy wel jou eie SIM kaart moet gebruik, gaan kyk dan op jou diensverskaffer se webwerf hoe om die swerfkostes tot die minimum te beperk – www.cellc.co.zawww.vodacom.co.za of  www.mtn.co.za.

 

Net die beste vir julle vir Julie!

 

Kennisgewing:  Kopiereg in hierdie publikasie en die inhoud daarvan vestig in DotNews  – Sien Kopiereg kennisgewing hieronder.

Webwerf: http://www.dotnews.co.za. 

Kopiereg voorbehou: Hierdie nuusbrief of enige gedeelte daarvan, mag slegs met die voorafverkreë skriftelike toestemming van die eienaar gebruik, versprei, gekopieer, nageboots of herdruk word.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *