’n Desember-gevoel

’n Desember-gevoel

Die aankoms van Desember bring byna outomaties ’n gevoel van opwinding, afwagting. Desember is vakansietyd, somertyd, seetyd, Kerstyd. Herinneringe aan vorige vakansies, somersdae saam met geliefdes en uitbundigheid oor vryheid word vanself opgeroep deur oomblikke gevul met die geure van branders en sonbrandroom en roomys. Somersaande se braaivleisvure en sterrenagte, en plek-plek muggies en muskiete en vuurvliegies en vakansiemusiek vervleg gister met nou. Die Desember-gevoel, om dit ’n naam te gee.

Dikwels is Desember egter net nóg ’n maand van daaglikse roetine en stygende temperature. Die sonsondergang word nie oral oor branders of bosvelde of Karoolandskappe dopgehou nie. Desember se kulinêre oorvloed is nie universeel nie. Uitbundige gelag en vrolike danspassies is soms ’n onbekende gesig. Herinneringe is nie altyd mooi nie. Daarom dink ek hierdie Desember aan hulle wat nog nooit die wonder van die Desember-gevoel ervaar het nie. Of wat dit verloor het. Mag daar vrede wees, hierdie Desember.

 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *