LawDotNews Nuusbrief Julie 2013

LawDotNews Nuusbrief Julie 2013

VERSEKERING: JY MOET ALLE WESENLIKE INSIDENTE AANMELD

Jy betaal al jare lank elke maand getrou jou stewige premies aan jou versekeraar. Wanneer jy uiteindelik ‘n eis indien, is dit uiters onsmaaklik as die versekeraar dan weier om uit te betaal. Maak seker dat jy van jou kant af voldoen aan al die terme en voorwaardes van jou versekeringskontrak.

‘n Verlies van R600 000

‘n Versekerde motoris moes onlangs hoor dat hy R608 772 (plus rente en regskostes) slegter daaraan af is. Die Hoë Hof het ten gunste van sy versekeraar beslis dat die afwysing van sy versekeringseis, regmatig was. Die eis het ontstaan as gevolg van ongelukskade aan sy Audi R8 Quattro motorvoertuig. Hy het nagelaat om die versekeraar in te lig oor twee vorige ongelukke waarin hy betrokke was en waarvoor hy nie eise ingedien het nie.

Die betrokke motoris wou op geen stadium eise indien vir die vorige ongelukke nie; die Hof bevind dat dit irrelevant was. Ingevolge die bewoording van sy versekeringskontrak, was hy verplig om die volgende te doen –

  • “…..inform us immediately of any changes to your circumstances that may influence whether we give you cover, the conditions of cover or the premium we charge” en
  • “…..report your claim or any incident that may lead to a claim to us as soon as possible, but not later than 30 days, after any incident. This includes incidents for which you do not want to claim but which may result in a claim in the future”.

Die bewoording hierbo is duidelik. Versekering vereis in elk geval die hoogste goeie trou en volledige openbaring en eerlikheid van beide kontrakspartye. Die Hof bevind dat ‘n redelike persoon sou toegee dat ‘n versekeraar moontlik die twee vorige insidente sou in ag neem by die besluit om verdere dekking te verleen en by die bepaling van die gepaste premie. Omdat hierdie wesenlike inligting van die versekeraar weerhou is, bepaal die Hof dat die motoris die bepalings van die versekeringskontrak verbreek het.

Wanneer is inligting wesenlik?

Die bewoording van versekeringspolisse gaan verskil. Dit sal wel soortgelyke klousules as hierbo bevat. Daar kan verskillende interpretasies wees van wat “wesenlik” is. Die vraag is of jy die kans wil neem om later daardeur verhoed te word om ‘n eis in te dien. Die onus sal op die versekeraar rus om aan te toon dat jou versuim om iets aan te meld, wel wesenlik was. Jy wil egter nie later deur ‘n hofproses gaan om hierdie aspek op te klaar nie. Selfs waar jou getroue aanmelding ‘n verhoging in jou premie meebring, is dit steeds beter as wat ‘n substansiële eis van jou op ‘n latere stadium van die hand gewys word.

So wat staan jou te doen?

Wees eerder te versigtig. Meld alle insidente, selfs oënskynlik minder ernstige gevalle, binne die voorgeskrewe tydraamwerk by jou versekeraar aan. Hou ook volledig rekord van hierdie aanmeldings. Onthou dat die hoogste goeie trou, ook volledige openbaring van jou handelinge vereis. Dit is die enigste manier hoe die versekeraar op ‘n akkurate manier die werklike risiko en gepaste premie kan bepaal.

 

 

HEFFINGS VAN EIENAARSVERENIGINGS – GEEN VOORDEEL, GEEN BETALING, OF HOE?

Ongelukkig werk dit nie altyd so nie. As ‘n reël, sal jy kontraktueel verplig wees om jou bydraes aan ‘n eienaarsvereniging te betaal, of jy nou direkte voordeel daaruit verkry of nie. (Ingeval van ‘n residensiële eiendomsontwikkeling staan die eienaarsvereniging bekend as die “Huiseienaarsvereniging”.) Hierdie verpligting sal reeds deel wees van jou aanvanklike koopooreenkoms en sal waarskynlik ook in jou titelakte verskyn.

‘n Onlangse uitspraak in die Hoë Hof handel oor die heffings op ‘n onontwikkelde erf wat binne ‘n luukse kantoorpark geleë is. Die eienaar is gedagvaar vir die betaling van agterstallige heffings van R200 000,00. Die Hof gee hom gelyk dat hy met ‘n leë erf, geen voordeel geniet om deel van die kantoorpark te wees nie. Tog het hy kontraktueel onderneem en was hy gevolglik kontraktueel verplig om die heffings te betaal. Die Hof beveel hom om die volle heffings, plus rente en regskoste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal. Al was sy verweer dus dat hy geen voordeel verkry as ‘n lid van die eienaarsvereniging nie, gelas die hof dat hy in navolging van die koopkontrak en titelakte sy deel moet betaal.

 

 

MINDERHEIDSAANDEELHOUERS: INGEBOUDE BESKERMING

Watter beskerming geniet minderheidsaandeelhouers? Hoe moet hulle optree teenoor direkteure wat deur meerderheidsaandeelhouers aangestel is? Jy kan die direkteure nie van hul pos onthef nie en jy kan ook nie die stemming by aandeelhouersvergaderings beheer nie.

Daar is wel voorsiening vir gepaste regshulp in terme van die Maatskappywet. Enige aandeelhouer of direkteur kan by die Hof aansoek doen vir hulp teen enige optrede van ‘n maatskappy, direkteure of ander beherende amptenare of entiteite. Die gewaande optrede moet onderdrukkend of benadelend wees of dit moet neerkom op die misbruik van die afsonderlike regspersoonlikheid van die maatskappy. Die motief van die optrede is nie relevant by die beoordeling daarvan nie; dit is wel belangrik om te bepaal wat die effek daarvan op die ander lede van die maatskappy sal wees.

Indien die Hof bevind dat die optrede wel benadelend is, het die Hof ‘n wye diskresie om die situasie aan te spreek.

‘n Praktiese voorbeeld

So ‘n saak het onlangs in die Hoogste Hof van Appèl gedien. ‘n Minderheidsaandeelhouer het aangevoer dat die twee direkteure wat deur die meerderheid aangestel is, hul aan growwe wangedrag skuldig gemaak het. Die vergrype sluit in die nie-nakoming van hul fidusiêre verpligtinge, wanaanwending en misbruik van maatskappybates, wanvoorstelling, bedrog, ongemagtigde gebruik van maatskappyfondse en die ontkenning van die minderheidsaandeelhouers se aansprake en regte.

Dit is seker nie vreemd dat die direkteure hierdie beweringe heftig ontken het nie. Die Hof kom die minderheidsaandeelhouers wel tot hulp en beveel dat twee onafhanklike direkteure vir die maatskappy aangestel moet word. Hierdie direkteure, ‘n senior advokaat en ‘n senior ouditeur, word juis aangestel om die beweringe te ondersoek en om die gepaste stappe te neem.

 

 

GEWELDDADIGE STAKINGS – VERANTWOORDELIKHEID VAN VAKBONDE

“The time has come in our labour relations history that trade unions should be held accountable for the actions of their members. For too long trade unions have glibly washed their hands of the violent actions of their members.” (Arbeidshof, hieronder.)

Ons Grondwet beskerm werkers se reg om te staak. Dit is maklik om ‘n beskermde staking te inisieer. Hierdie reg word beperk deur die vereiste dat stakings altyd vreedsaam, sonder geweld en sonder wapens moet geskied. Ons howe sal regmatige stakers dus altyd behulpsaam wees teen enige onregmatige optrede deur werkgewers.

Aan die ander kant, sal ons howe egter bestraffend optree teen gewelddadige stakers en indien van toepassing, ook optree teen enige vakbonde wat betrokke is by die geweldpleging.

So ‘n saak is onlangs in die Arbeidshof beslis. Die Hof het hier reeds voorheen ‘n interdik teen ‘n vakbond en sy lede uitgereik. Die interdik het hulle verbied om die volgende te doen: om met ‘n onbeskermde staking voort te gaan, om nie-stakende werknemers te teister, te dreig, aan te rand of te intimideer; om enige wapens te dra, om die werkgewer se toegangspad te versper en om binne 300 meter van die werkgewer se perseel te kom.

Die staking het egter voortgeduur en daar was verskeie insidente van geweld en beskadiging van eiendom. Voertuie en geboue is onder die klippe gesteek en beskadig, wapens is rondgeswaai, ‘n afleweringswa is aan die brand gesteek en voertuie is verhinder om op die werkgewer se perseel te kom. Die werkgewer het die Hof om die volgende regshulp genader –

  • Om die vakbond en sy lede skuldig te bevind aan minagting van die hofbevel.
  • Om die vakbond te beboet.
  • Om die skuldige werknemers tronkstraf van 180 dae op te lê.

Die werknemers wat direk aanspreeklik was vir die geweldpleging, is na dissiplinêre verhore, skuldig bevind en ontslaan. Hulle het dus nie tronkstraf ontvang nie. Die Hof bevind wel dat die vakbond nie genoegsame stappe geneem het om hul lede van hul gewelddadige en onregmatige optrede te laat afsien nie.

Die uiteinde – ‘n boete van R500 000

Die Hof bevind dat beide die vakbond en sy ampsdraers skuldig was aan minagting van die vorige hofbevel. Die hof lê hulle ‘n boete van R500 000,00 op. Die hof beveel hulle verder om die werknemer se regskostes op ‘n bestraffende skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.

Indien werkgewers met stakingsgeweld gekonfronteer word, moet hulle nie huiwer om die hof te nader vir regshulp nie. ‘n Hofinterdik moet so gou as moontlik verkry word en afgedwing word.

Vakbonde word verplig om die nodige stappe te neem om gewelddadige stakings deur hul lede te ontmoedig en te verhoed.

Voetnota: Die ander kant van die munt.

In volgende maand se uitgawe sal ons kyk na ‘n geval waar die Hof ‘n werkgewer wat stakers ontslaan het, met aansienlike (15 maande) vergoedingstoekennings gestraf het, omdat dit weer op outomaties onbillike ontslag neergekom het.

 

 

VERBANDHOUERS – KAN DIE SKULDENAAR ‘N STOK IN DIE WIEL STEEK IN ‘N LIKWIDASIE-AANSOEK?

‘n Skuldenaar word met ‘n aansoek vir likwidasie gekonfronteer. Gewoonlik sal die skuldenaar eers probeer om uitstel vir betaling te beding. Daar word gewoonlik aangevoer dat hierdie tydvergunning die skuldenaar in staat sal stel om die bates self te realiseer. Sodoende sal ‘n beter voordeel vir skuldeisers verkry kan word as wat ‘n gedwonge verkoping van bates tot gevolg sal hê; of so word beweer. ‘n Onlangse beslissing van die Hoë Hof maak dit egter duidelik dat dit nie vir krediteure nodig is om hiervoor te wag nie.

‘n Verbandhouer het ‘n aansoek geloods om ‘n eiendomsmaatskappy te laat likwideer. Die maatskappy beweer egter dat alhoewel dit “kommersieel insolvent” is, dit oor genoeg bates en sekuriteit beskik om al die maatskappy se skulde oor tyd af te los. Die maatskappy voer aan dat die likwidasie daarvan tot gevolg sal hê dat bates op gedwonge wyse verkoop sal word en dat dit noodwendig tot lae pryse en swak opbrengste sal lei.

Die Hof is nie hiervan oortuig nie en staan die aansoek vir likwidasie toe. Die Hof is van mening dat die verbandhouer geregtig is om sonder redelike versuim betaling te verlang en af te dwing. Die verbandhouer hoef nie onbepaald te wag vir die skuldenaar om sy bates te realiseer op ‘n wyse wat vir die skuldenaar die beste voordeel oplewer nie. Die feit dat die skuldeiser oor sekuriteit beskik, is nie hier van wesenlike belang nie. Sekuriteit in die vorm van ‘n verband kan nog steeds nie outomaties en in ‘n kort tyd in ‘n onmiddellike betaling omgesit word nie.

Regsentiteite wat geld verskuldig is, sal steeds in gepaste gevalle beskerming in die vorm van Besigheidsredding kan verkry. Hierdie skuldenaars moet egter ‘n behoorlike saak kan uitmaak en ‘n besigheidsreddingsplan kan formuleer wat beide eg en kommersieel haalbaar is. In geval van enige twyfel hieroor moet jy behoorlike advies hieroor neem.

 

 

JULIE WEBWERWE: 10 FOUTE WAT ELKE ENTREPRENEUR MOET VERMY

“SMEs have been identified globally as the key drivers of creating wealth, reducing poverty and facilitating jobs. In South Africa, it is reported that SMEs contribute 40% of GDP and 60% of the workforce in formal employment.” (SAVCA – South African Venture Capital & Private Equity Association)

Met ander woorde, ons benodig elke entrepreneur wat ons kan kry en ons moet hierdie kreatiewe geleentheidskeppers aanmoedig.

Het jy die kwaliteite wat nodig is om ‘n entrepreneur te wees? Toets jou entrepreneursaanleg deur die vraelys “Are You an Entrepreneur?” in te vul op die Forbes tydskrif se webwerf.

Lees dan ook Alex Genadinik se artikel en raad oor “10 Mistakes to Avoid When Starting Your Business” op News24Voices se webwerf.
‘n Wonderlike Julie vir julle!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *