Stellenbosch se drie rooi skoolgeboue

by 'nDromer | Local News

Het jy geweet dat Paul Roos Gimnasium eens op 'n tyd in Victoriastraat was? Al drie die bekende hoërskole in Stellenbosch is meer as 'n eeu oud en was al op verskeie plekke in die dorp geleë.

Die ou Bloemhof skool is vandag die Stellenbosch kunsmuseum, die ou Paul Roos gebou is vandag die Visuele Kunste gebou, en die Rhenish skool is nou die P.J. Olivier kunssentrum.

Al drie skole was (soos die mode van die tyd was) met rooi bakstene gebou en het allerlei torinkies en tierlanteintjies gehad. Net die ou Bloemhofgebou het sy mooi rooi kleur behou.

visual-arts-building-visuele-kunste-gebou-at-stellenbosch-university-gn7b13

Destydse gebou van Paul Roos Gimnasium

Toe die oorspronlike Het Stellenbosch Gimnasium gestig is in die Ou Leeskamer op die hoek van Dorp- en Drostdystraat, het die skool 3 onderwysers gehad en 88 leerlinge. Die skool is begin met die doel om seuns op te lei vir Universiteit, veral in die studie van Teologie.

Dit was inderwaarheid die voorloper van die Victoria College en later die Universiteit. Binne enkele jare na die seunsskool se stigting het vier seuns reeds hul B.A. grade behaal en in bietjie minder as 10 jaar is 'n kollege-afdeling van die skool (bekend as die Arts dept) amptelik ingestel.

Die seunsskool het vir 'n tyd lank in laer Dorpstraat bymekaargekom (reg oorkant die Dorpstraat Boutique Hotel) in 'n gebou met 'n kenmerkende portiek. Blykbaar was daar te veel geraas, en het die skool in 1874 klasgeloop op die hoek van Pleinstraat en Ryneveldstraat.

Die skool het deur die jare gegroei en uitgebrei en daar is besluit om 'n nuwe skoolgebou in Victoriastraat op te rig. Dit is die gebou wat vandag die Visuele Kunste departement is. Die skool is geopen deur die goewerneur in 1908 en het die naam Boy's High School gekry (Die skool is eers vanaf 1946 "Paul Roos Gimnasium" genoem). Die skoolgebou is later deur die Universiteit gekoop en is gebruik as die eerste Ingenieursfakulteit.

Vandag staan Paul Roos op 'n deel van die oorspronklik plaas Welgevallen. Die onderste deel van Welgevallen is verkoop aan Mnr Willie Krige (dit is hoekom die area bekend staan is Krigeville) en die boonste aan die bekende Mnr Jannie Marais van Coetzenburg.

Die plaashuis is verander in 'n dubbelverdieping en gebruik as die Young Men's Home, of skoolkoshuis, maar die behoefte aan behuising was so groot dat die hoenderhok en koeistalle ook later oms

kep is. Die eerste huisvader, Mnr Japie Krige, was 17 jaar aan diens, en het algemeen bekendgestaan as Japie Home.

 

Bloemhof

Die rooibaksteengebou in Ryneveldstraat (naby die skuishuis) word vandag nog soms die ou Bloemhof skool genoem.

Net soos Paul Roos en Rhenish het die skool 'n nederige oorsprong gehad met net 46 leerlinge in die laerskool, hoërskool en kindertuin. Die skooltjie het vir 'n tyd lank in Pleinstraat bymekaargekom in 'n gebou wat intussen gesloop is (min of meer waar Absa vandag is), en later in Kerkstraat.

In 1907 is daar geskuif na die "sierlike nuwe gebou in Ryneveldstraat", die rooi Bloemhofgebou. Die koshuis, die pragtige (en dikwels misgekykte) gebou oorkant Häzz wat vandag die plaaslike munisipale kantore is, is Neethlingshof genoem ter ere van een van die stigters, Johannes Neethling.

Die Bloemhofgebou is in 1991 in gebruik geneem as kunsmuseum. Die restourasie is deur Sasol befonds, en daarom word die museum nog soms die Sasol Kunsmuseum genoem. Vandag is dit net die Stellenbosch Kunsmuseum. Loer gerus daar in vir 'n kykie na Stellenbosch se interessante kunsskatte.

Het jy geweet? In 1977 het die laerskole van Bloemhof en Paul Roos saamgesmelt om die gemengde skool Eikestad te vorm.
pf-olivier-art-center-1g

Rhenish

Die meisieskool wat vandag as Rhenish bekendstaan het ontstaan rondom 1860. Sendelinge van die Duitse Rynse Kerk was reeds van die vroeg 1800's in Stellenbosch betrokke. Hul wou graag 'n skool skep vir dogters omdat baie jong meisies vir lang tydperke oorsee na hul vaderland moes gaan vir ordentlike onderwys.

Toe die oorspronklike skooltjie in Alexanderstraat (wat begin het met net 8 leerlinge) te klein word, het iemand 'n groot woonhuis naby die Braak aan die skool geskenk. Op daardie stadium was meeste van die geboue rondom die Braak reeds die eiendom van die Rynse Kerk. Vandag is die Rynse kompleks 'n nasionale gedenkwaardigheid.

Die P.J Olivier kunssentrum is sedert 1967 in die ou Rhenish koshuis gehuisves.

Bloemhof, Rhenish en Eikestad laer geleë op wat oorspronklik die plaas Doornbosch was, een van die eerste plase in Stellenbosch.

Het jy geweet, Mnr Paulus Daniël Lückhoff was 'n sendeling van die Rynse Kerk wat in 1830 na Stellenbosch gekom het. Hy was betrokke by die stigting van Rhenish skool en deur sy betrokkenheid in die gemeenskap is Hoërskool Lückhoff later na hom vernoem. Hoërskool Luckhoff was oorspronklik in Banhoekweg, maar a.g.v. die groepsgebiedewet is die skool verskuif na die buitewyke van die dorp. In 2007 het die Universiteit 'n versoeningsgeleentheid gehou waar die ou skool teruggegee is aan die mense van die gemeenskap.

Artikel: Y Coetsee 2017
Bronne: Stellenbosch Drie Eeue